Rubber

Lateks word vir die vervaardiging van rubber geoes.
'n Plantasie van rubberbome in Thailand.

Rubber is 'n elastiese, waterdigte materiaal wat kan rek en krimp. Talle voorwerpe word van rubber gemaak, soos balle, uitveërs, handskoene, bande en proppe. Dit is 'n polimeer wat van natuurlike bronne bekom, of op industriële skaal gesintetiseer word.

Natuurlike rubber (lateksrubber) word van bome wat veral van Suid-Amerika afkomstig is gemaak. Dit word as ’n sap (genaamd lateks) uit boomstamme getap. Ongeveer 33% van hierdie sap bestaan uit rubber. Die lateks word gefiltreer en met water verdun. Dit word dan met suur behandel om die rubberdeeltjes te laat stol. Daarna word dit platgerol en gedroog.

Sintetiese rubber word deur 'n chemiese proses vervaardig. Die proses staan as polimerisasie bekend en word ook vir die vervaardiging van plastiek gebruik. Voorbeelde van sintetiese rubber is chloropreen-rubber, 1,3-butadieen-rubber en butyl-rubber.

Swawel word soms gebruik om rubber sterker te maak en te keer dat dit nie maklik smelt nie. Dit staan as vulkanisasie bekend.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search